4 February 2022 by Admin

TURKSVY: ‘N KAKTUS VAN ‘N ANDER KLEUR

TURKSVY: ‘N KAKTUS VAN ‘N ANDER KLEUR
4 February 2022 by Admin
Die turksvy is dalk nie in Afrika gebore nie, maar die plant en vrug se vele gesigte en moontlikhede is alles behalwe volksvreemd.

“Tolofiyaaaa”, hoor jy die verkopers luidkeels woeker soggens tot saans; die laaste letter word lank uitgerek dat die aankondiging regdeur die straat weergalm, van bo tot onder.

In die Oos-Kaap steek vele hul neuse by die deur uit as hul hierdie woord hoor; turksvytyd is hier en in Januarie, Februarie en soms nog Maart staan die sakkies soos soldate gelaai met groen steekbaardvruggies langs die strate terwyl ywerige verkopers ‘n vrug of drie in die lug hou.

Turksvy Uitenhage
Vir die turksvy-entrepreneurs is daar geen middelman nie; hul vra toestemming by die boere, pluk die doringvrugte versigtig met ‘n gedraaide stuk draad bo-aan ‘n stok en verkoop dit. Die werk is nie maklik nie; hul pluk in die vroeë oggendure, stof die vrugte se dorings af met ‘n bossie, en dan volg ‘n lang dag in die son en in die hande van die noodlot soos die motors verby zoem, die een na die ander.

Die turksvy is ‘n uitheemse plant wat sy Mexikaanse wortels sedert 1772 geanker het Suid-Afrika saam met die Europese setlaars; soos tyd verloop het, het dit omtrent 900 000 hektaar van veld in die Oos-Kaap en Karoo ingedring en dit moes gevolgelik uitgeroei word deur die gebruik van die cochenille insek asook die turksvymot.

Hannes Horn boer net buitenkant Steytlerville op Bucklands, a familieplaas, en vertel hoe sy pa, een van 10 kinders, se pa turksvye uitgeroei het ongeveer ‘n honderd jaar gelede (voor die cochenille insek gebruik is).

“Hulle het 2 osse ingespan en die turksvye op hope bymekaar gesleep waar dit in die son gedroog het voor dit verbrand is. Ouma, dogters en bediendes het almal vir ‘n week of meer Turskvykopstroop gekook wat dan gebottel is en as konfyt gebruik is vir die grootste deel van die jaar. My pa-hulle moes kies tussen vet of stroop op die brood, hul mag nie twee goed saam opgesit het nie, dit was te skaars”.

Turksvy Uitenhage

Vandag is die turksvypopulasie onder beheer en ten spyte van die familie se turksvy-tameletjie ‘n eeu gelede stop Hannes self nou langs die pad om van hierdie somerlafenisse aan te koop.

Die turksvy is dalk nie in Afrika gebore nie, maar dit is verseker hier getoë; die plant en vrug se vele gesigte en moontlikhede is alles behalwe volksvreemd.

Die kaktus is pure gesondheid uit die grond – oftewel blaar – uit en dit word dikwels verwerk tot stroop, konfyt, blatjang, atjar en selfs gedroogte vrugte. En vir die wat hul broodjie aan albei kante gebotter wil hê met ‘n knertsie is daar ook turksvy witblits en turksvybier; ‘n tradisionele Xhosa bier wat alle boetiekbier fanatici ore sal aansit met ‘n ordentlike skop daarby.

Maar die plant se voordele stop nie daar nie.

Dit bevat hoë vlakke van vitamiene C, magnesium, yster en kalsium, het ‘n lae sodiuminhoud, is hoog in vesel en het omtrent 6 tot 14% suiker, alles in die vorm van glukose en fruktose.

Destyds het Nelson Mandelabaai die vrug met ‘n groot makietie gevier; die turksvyfees het ontstaan in 1987 en het duisende jaarliks gelok na die Cuyler Manor museum vir potbrood, gemmerbier, waterkaskenades en natuurlik die legendariese witblits, ewe gedistiller met ‘n negentien-eeuse stookketel.

Ek stop by ‘n groepie turksvy entrepreneurs op die pad Jansenville toe.

Vinnig-vinnig word die sakkies opgetel en hul besigheidsgesigte helder op.

Turksvy witblits

Ek is lus vir gesels en vra wanneer, hoe en waar hul dit pluk en hoe maak hul met die dorings, want kyk, daardie onsigbare dun haaragtige doringtjies steek vir jou wanneer jy dit die minste verwag. En dit klou.
Hulle strek hande en arms uit, “Oe dit is seer, en as die wind verkeerd waai, waai dit binne ons oë in”, sê Maria Mooi terwyl sy haar hande oor haar gesig vee.

Turksvy Oos-Kaap

‘n Motor stop en Petrus loop na die venster met sy besigheidsgesig en vier sakkies. Een sakkie van ongeveer 20 turksvye kos R15, as mens ‘n bietjie verder ry vra hul R20 en die wat van huis tot huis gaan stoot dit sommer op na R45.

Dit is rerig ‘n entrepreneursvrug.

“Wat gebeur as mens baie turksvye eet”, vra ek.

“Oe nee, dit moet jy nie doen nie,” sê Katie Tomo terwyl sy haar maag vryf, “hy stop jou maag”.

Die res skaterlag.

Ek tel ‘n turksvy versigtig op, ek is al voorheen gesteek deur die vrug se dorings, maar daar is niks, alles is afgevee met ‘n bossie. Ek koop my sakkie tolifyas, vat die pad en weet, vanaand smul ek lekker.
Aan ‘n turksvy is daar is slegs een nadeel… as jy te veel in jou mond prop gaan jy jou maag toeprop; en dit is sowaar ‘n kaktus van ‘n ander kleur.

ANJE
2022-02-04

Previous articleVind Tradisionele Medisyne: Alles Oor Turksvy-UittrekselNext article Cactus Pear in South Africa: A Miracle Plant for People, Animals, and Agriculture

Leave a Reply Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

About The Blog

Nulla laoreet vestibulum turpis non finibus. Proin interdum a tortor sit amet mollis. Maecenas sollicitudin accumsan enim, ut aliquet risus.

Recent Posts

  • Cactus Pear in South Africa: A Miracle Plant for People, Animals, and Agriculture
  • TURKSVY: ‘N KAKTUS VAN ‘N ANDER KLEUR
  • Vind Tradisionele Medisyne: Alles Oor Turksvy-Uittreksel

Categories

  • Lifestyle
  • News
  • Others
  • People
  • Post

Meta

  • Log in
  • Entries feed
  • Comments feed
  • WordPress.org

Tags

Article Artikel Information

Hoekom Turksvyfees

Iemand het eendag gese, die turksvy is nie ‘n vrug nie, dis ‘n medisyne wat baie lekker proe.

Ons vier hierdie wondervrug in ons erfenis.

Recent Posts

  • Cactus Pear in South Africa: A Miracle Plant for People, Animals, and Agriculture
  • TURKSVY: ‘N KAKTUS VAN ‘N ANDER KLEUR
  • Vind Tradisionele Medisyne: Alles Oor Turksvy-Uittreksel
Turksvyfees. Proudly Built By Stratagex

About This Sidebar

You can quickly hide this sidebar by removing widgets from the Hidden Sidebar Settings.

Recent Posts

  • Cactus Pear in South Africa: A Miracle Plant for People, Animals, and Agriculture
  • TURKSVY: ‘N KAKTUS VAN ‘N ANDER KLEUR
  • Vind Tradisionele Medisyne: Alles Oor Turksvy-Uittreksel

Categories

  • Lifestyle
  • News
  • Others
  • People
  • Post

Meta

  • Log in
  • Entries feed
  • Comments feed
  • WordPress.org